Jeffreys Bay
Ontmoet JBay kunstenaar Lumin James

Ek volg Lumin se aanwysings tot by die groot boom by St Croixstraat 24,en parkeer my motor. My opwinding ken geen perke nie want ek kan net dink wat vandag se onderhoud gaan oplewer!

Met die roep van haar naam skuif die motorhuis se deur oop, en siedaar – die pottebakkers ateljee vanwaar sy en Chris Winkelman werk is soos ‘n paradys vir my oog. My asem is behoorlik weggeslaan. Hierdie vrou is kunstig verby!

Met haar joviale groet en opbind van haar weerbarsitge krulle, voel ek tuis. Ek gaan sit op die naaste stoel, en Chris neem die koffiebestellings. ‘n Keuse van koffiebekers is volgende op die lys, en ek kan kies tussen een met of sonder ‘n oor, een met ‘n boepmaag of dalk die regop en meer formele beker! My oog val op die bekende “L” merk, wat aandui dat die produk deur haar vervaardig is. Van haar produkte is te koop by Hooked on JBay. Maak gerus hier ‘n draai.

Lumin vertel opgewonde en vol geesdrif van haar sukses met haar nuwe werkplek. Die kliente stap eenvoudig in om te besigtig en te bestel, juis omdat die ateljee in die industriele area is. Die ateljee se deure word so midoggend oopgemaak, nadat die twee eers op die strand was om dryfhout op te tel vir Chris se reeds bekende stokvisse. Die dag te beplanning gebeur ook tydens hulle sogenaamde strandvergadering. Daar is beslis baie pret tussen die twee – hier word oor en weer geskerts en baie gelag.

Chris, wat oorspronklik van Duitland is, en verlief geraak het op Lumin en die wind vir sy sport, se deel van die ateljee, waar Woodstok die lewe sien, bestaan uit allerhande interessante voorwerpe. Hy maak die vislywe van draad en dryfhout, en Lumin se potterbakkersoond spoeg die koppe uit, wat kunstig deur haar hande gevorm word. Die visse se bekkies is vriendelik, en die ogies sien alles raak! Hy is ‘n kranige fotograaf, en ook n intense natuurliefhebber.

Lumin, die brein agter al die werksaamhede in hierdie ateljee, is tans besig met groot projekte wat die buiteland betrek. Erica van den Hoven van Oesterbaai en Lumin het kragte saamgesnoer met die werksaamhede van Enkosi Kakhulu, waar vroue van verskillende etniese groepe saamwerk om brue oor kulture te bou, asook werkskepping te weeg te bring.

Lumin se rou produkte word deur Erica se groep vroue versier, waarna dit terugkom na die ateljee vir Lumin se glasuurwerk en die vuurwarm oond. Hierna vertrek die produkte na Europa, waar dit veral bekenheid verwerf het op verskeie skoue. Op een van die rakke staan ‘n kerstoneel in wording, wat ook oppad Europa toe is.

Sy is tans besig met projekte wat gekoppel is aan bekende maatskappye wat op soek is na buitengewone produkte vir hulle boetiekwinkels asook internasionale kliente. Hieroor is sy nog ietwat geheimsinnig ,so ons wag en kyk wat hierdie ruimte gaan oplewer!

Sy het vakke soos handelsreg en verkoopsbestuur bestudeer, maar nadat sy nege jaar gelede besluit het om die voorvarende lewensstyl van ‘n goue plaatjie teen haar kantoordeur te ruil vir die see en sand en lewe in ons eie JBay, is daar aan hierdie kunstenaar geen keer nie. Sy het reeds naam gemaak met die vervaardigigng van eksklusiewe eetstelle vir bekende restaurante soos In Food, Chez Patrick, Three Fat Fish asook Olive Tree Junction, en die gewilde wildreservaat Lalli Bella. U kan aan lyn loer na haar produkte op Face Book.

Die eienaar van die alombekende sandsakhuis in Jeffreysbaai, het die twee kunstenaars genader vir raad asook die vervaardiging van onder meer ligte en spieels. Herwin is die wagwoord, maar daarmee saam gaan die verdere “upcycle”, waar die herwinde stowwe weer gebruik word. Die sandsakhuis se opdrag is op die oomblik hoog op hulle prioriteitslys, en oral in die ateljee is tekens van stukke wat reeds herwin en versamel is.

Lumin het begin om Vrydaemiddae klas te gee vir diegene wat meer omtrent die kunsvorm wil leer. Hier word verskeie tegnieke aan die studente verduidelik. Die eindprodukte is natuurlik die studente se trots. Sy beoog om as verskaffer op te tree vir produkte wat tydens hierdie prosesse gebruik word. Aandag aan alle voornemende pottebaksters!

Lumin, ‘n vegetarier put baie inspirasie uit die natuur, en streef daarna om ‘n groen voetspoor te laat waar ookal sy beweeg. Sy maak veral gebruik van suiwer onvermengde herwinbare glas in haar kunswerke.

Sy vertel met ‘n ondeunde sprankel in haar oog van haarskilderye “Once a Fish”, wat in pastelle gedoen is. Die laaste van drie beelde is aan lyn gekoop deur ‘n bekende kunsliefhebber in SA. Die uitbeelding gaan oor visvang.

Die eerste beeld toon dat een vis genoeg is vir die dag se brood, maar weens die gierigheid van die mens, toon die laaste van die drie beelde hoe gierigheid daar uitsien! Die gelaat van die visvanger het reeds die kleur van die bedreigde vis aangeneem!

Soos die spreekwoord ons leer wag tyd en gety vir niemand nie, en die totsiensgroet is heeltemal te gou. Ek stap met trae voetspore terug na my motor, en ek weet dat ek nooit weer dieselfde gaan kyk na die pottebakkery kunsvorm nie.

View News By Category
News Archive