Die tweede Kouga MTB Challenge vind hierdie Sondag (26 Junie) in die Oesterbaai omgewing plaas. Alhoewel die aanlyninskrywings reeds gesluit het, kan fietsryers nog steeds op die dag registreer.

Ryers het drie afstande om van te kies, 30km, 65km en 130km. Al die afstande begin en eindig by Die Melkstal net buite Oesterbaai.

Die hoofafstand van die dag is die 130km. “Die 130km het iets van als in – jy gaan moet fiks wees,” se organiseerder Dietrich Gerber. “Die totale klim is ongeveer 1700m en die tegniese afdelings is moeilik – maar bygesê, dit is darem net vier kort stukkies wat jy kan loop as jy nie kans sien nie. Drie hiervan sluit opdraende in.” Hierdie afstand is heelpad grondpad waarvan 10km uit voetpadjies bestaan. Die onlangse reën sal natuurlik vir groter opwinding sorg.

Die uitsig oor die berge is pragtig en die riviere vol water ‘n lus vir die oog. King of the Mountain wen ‘n Netbook en die eerste man en vrou oor die wenstreep wen R1 000.”

Volgens Gerber is die 30km-afstand “doenbaar, selfs al is mens bietjie onfiks. Hierdie afstand is regtig nie aan te bevel vir die meer aktiwe ryers nie. Die 65km is ‘n goeie afstand vir gereelde ryers.”

Die inskrywingsfooi beloop R35 vir die 30km, R70 vir die 65km en R135 vir die 130km. Vir die twee lang roetes moet ryers wat nie lid is van Fietsry Suid-Afrika nie ‘n addisionele R41 betaal. Registrasie vir die 130km is van 05:30 tot 06:00 en die wegspringtyd is 07:00. Daar is ‘n afsnytyd vir die roete en prysuitdeling is 17:00. Registrasie vir die twee korter roetes is 06:30 – 07:15 en hulle spring 07:30 weg. Die prysuitdeling is 12:00.

Kinders sal besig gehou word met ‘n springkasteel en hope plek om rond te hardloop.

Ryers en hul gesinne kan by Die Melkstal kampeer op Saterdagaand. Stef Junkers, ‘n hipnotiseer gaan optree ten bate van die NSRI en dit beloof om ‘n aand vol pret te wees. Kaartjies kos R50 per persoon en pasta kan vooraf bespreek word teen R30 per persoon. Vir meer inligting oor Stef, gaan na www.drstef.co.za. Nie-fietsryers van die omgewing kan gerus die aand ondersteun.

View News By Category
News Archive